Entertainment

Groot nuus vir aanhangers van Rinél Day. Die sanger is terug met ‘n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo

Na 'n paar jaar uit die publieke oog  is Rinél Day terug met 'n splinternuwe enkelsnit, Ek Het Opgestaan,  en aanhangers is so gaande daaroor dit pryk al vir weke op die trefferparades.

Soos die titel sê: Rinél Day is terug en sy het waarlik opgestaan!  Die musiekvideo vir die liedjie is ook onlangs vrygestel en dit is sprokiesmooi.

Kyk hier daarna:

“Daar is nie altyd ’n held in die regte lewe, wat jou kom red nie. Jy hou vas aan geloof en gebed, wat jou dan help om daai tree te vat om jouself te red. Die held kom gewoonlik na al die hartseer, selfondersoek en opstanding. Dan gebeur jou ‘Happily ever after’,”Rinél oor die boodskap agter die musiekvideo.  

Hierdie feëverhaal, wat afspeel in die Middeleeuse tye, is deur die Coolerbox Brothers by Greensleeves Medievel Kingdom in Johannesburg verfilm. Die idee van die video was om kontras te skep tussen lig en donker deur te wys hoe die heldin uit die donker na die lig ontsnap.

Volgens Rinél, wat regdeur die video in die mooiste Hans Vosloo Du Toit-skeppings te sien is en haar vernuf met fakkels en vlamme ten toon moes stel om die perfekte skoot te kry, het die eindresultaat van die video haar stoutste verwagtinge oortref.

“George van die Coolerbox Brothers het my basiese idee gevat en ’n merkwaardige sprokiesverhaal geskep, wat vir kykers wys dat hulle soms die held in hulle eie lewens kan wees. Elke persoon verdien geluk en jy kan self die keuse maak om dit te vind en jouself te red,” vertel sy. 

 

Ek het opgestaan is die eerste enkelsnitvrystelling vanaf die kunstenaar se derde ateljee-album met dieselfde naam, wat op 30 September 2020 bekendgestel sal word. Die snit is geïnspireer deur ’n moeilike tyd in haar eie lewe. Die sterk tema vind aanklank by gehore van alle ouderdomme en die meesleurende wysie, is reeds ’n gunsteling op die dansvloer.

Rinél is in Vryheid gebore en het hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword. Sy is verloof aan die liefde van haar lewe, Shaun Walker, en is al vir meer as ’n dekade lank doenig in die musiekbedryf.

 Op die ouderdom van tien, het sy haar eerste sangkompetisie gewen en in 2012 haar eerste selfgetitelde Ghoema-benoemde album (Beste Pop-album deur ’n Vroulike Kunstenaar) uitgereik.

 Haar tweede album, Dit Staan in Die Sterre, het ewe veel sukses bereik en is in 2014 vrygestel. Dit het ’n Ghoema-nominasie ontvang vir Beste Kontemporêre Album deur ’n Vroulike Kunstenaar en bevat bekende liedjies en musiekvideo’s, soos Dit Staan in die Sterre, Ligjare WegMaak My Joune, en meer.

Oor die jare, het dié veelsydige kunstenaar verskeie hoogtepunte bereik: in 2012 het sy sestiende gekom in die internasionale World Peace Song Contest, met haar liedjie Vuur Met Vuur Veg; vanaf 2014 tot 2018 het sy as Beskermengel van die Jakaranda Kinderhuis opgetree; in 2015 was sy te sien in Leon Schuster se Shucks! Pay Back The Money; en laastens was sy ook deel van die groep JANEDUKE wat deurgedring het na die top 26 van die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie.

 Wanneer sy nie besig is om harte te verower op die verhoog nie, is sy drukbesig om liedjies te skryf en te werk aan haar blog, My Millennial Blog, waarin sy raad gee oor hoe om mooi te lyk op ’n beperkte begroting.

Die liedjie is op talle digitale platforms beskikbaar.

 Vir meer oor Rinél Day volg haar op Facebook, Instagram of Twitter  of besoek haar webtuiste

Leave a Reply

%d bloggers like this: