Entertainment

‘n Splinternuwe musiekvideo vir Saarkie! Kyk hier daarna

Suid-Afrika se gunsteling dames rock-groep, SAARKIE was dalk vir ‘n rukkie stil en uit die oog, maar hulle het beslis nie stilgesit nie. Die gewilde trio is terug en as jy nog nie hulle splinternuwe musiekvideo vir die enkelsnit, Reënweer gesien het nie, sal jy beslis daarna wil loer.

 

Sedert die vrystelling is die enkelsnit reeds besig om die trefferlyste te klim en die musiekvideo, wat die stories van ‘n plaasseuntjie wat elke dag hoop dat die meisie van sy drome hom sal raaksien, vertel is beslis ‘n kyk werd. 

Alhoewel die meisie klaarblyklik onbewus is van sy bestaan, verloor hy nie moed nie, en neem hy elke dag sy sambreel saam skool toe… vir ingeval dit dalk reën en hy dit vir haar kan aanbied. Te oulik!

“Ek en Mjön van Blommestein het met die konsep vir die video opgekom,” verklap voorsanger, Adelè Fouché, oor wat agter-die-skerms gebeur het. 

SAARKIE se instrument-insetsel is deur Willem Foster by SunshineCo. in Johannesburg verfilm, terwyl Mjön die kinders op ’n grondpad in Pretoria afgeneem het en self ook verantwoordelik was vir die redigering van die video,” voeg Adelè by. 

Reënweer is ’n lekkerluister rocksnit, uit Adelè se pen, wat gedurende die eerste vyf weke van die grendeltydperk geskryf is. Dit is die groep se eerste vrystelling nadat hulle vir ’n rukkie stil was. 

“Gedurende inperking, het die paaie ewe skielik stil geword in die aand. Die geraas van karre, is vervang deur naggeluide,” verklap die meisies oor die inspirasie agter die lied. “Almal wil iemand naby aan hulle hê. Grendeltyd het ons fokus geskuif na die dinge wat belangriker is as die gejaag van die daaglikse lewe.”

 Dié snit bou natuurlik voort op die unieke rockklank waarvoor die groep bekendheid verwerf het en is een van daardie liedjies wat jou dwing om stil te staan en te luister wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. Dit is reeds baie goed deur die publiek ontvang en kan gereeld oor die radio gehoor word.

SAARKIE, wat bestaan uit Adèle, Mjön en Lila Botha, vier vanjaar hulle elfde bestaansjaar en word beskou as een van die mees suksesvolle rockgroepe in die land.

Die Saarkies het bekendheid verwerf vir hulle energieke elektries-akoestiese styl en is oor die jare vir verskeie Ghoema- en SAMA-musiektoekennings benoem, waaronder Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo en Groep van die Jaar. Hulle is ook ’n gereelde gesig by Suid-Afrika se grootste muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, Innibos en meer. 

 Die groep is binnekort terug in die ateljee om nuwe musiek op te neem en ‘n eksklusiewe reeks Saarkie-toebehore sal ook binnekort aanlyn te koop wees.  

Reënweer is op talle digitale platforms beskikbaar.

Vir meer oor SAARKIE en om te sien waarmee hulle besig is, volg die groep op Facebook, Twitter en Instagram of besoek hulle webtuiste by www.saarkie.com.

Leave a Reply

%d bloggers like this: